Algemene vraeKry hier antwoorde op jou vrae oor hoe die program werk.
V: Sal ek dié program kan doen?
A: Die program is ontwerp vir gesonde en onbeseerde vroue. Gaan sien ’n fiksheidspesialis as jy enige beserings het om raad te kry oor watter oefeninge jou besering kan vererger en om alternatiewe oefeninge te kry.
Jy behoort die groen lig by jou dokter te kry voor jy enige oefenprogram begin, veral as jy enige risikofaktore het, soos:
- Familiegeskiedenis: Enige hartverwante siekte voor die ouderdom van 55 in jou pa of ander nabye manlike familielid, of 65 jaar in jou ma of ander nabye vroulike familielede.
- Sigaretrook
- Hoë bloeddruk
- Hoë cholesterol
- Hoë bloedsuikervlakke
- Obesiteit, m.a.w. jou liggaamsmassa-indeks (“BMI”) > 30 kg.m2
- Onaktiewe leefstyl
Dis ook ’n goeie idee om hierdie program na jou gim te neem en ’n instrukteur te vra om eers na jou tegniek te kyk. So kan jy seker maak jy doen die oefeninge reg.
Jy kan die program aanpas en dit teen jou eie tempo doen: Beweeg eers aan na die volgende week se oefeninge wanneer jy voel jy het die huidige week s’n onder die knie. Dis doodreg as jy ’n week ’n paar keer herhaal voor jy aanbeweeg.
Let wel: Die program is vir vroue ontwerp. As jy belangstel in ‘n program vir mans, stuur ‘n e-pos na klopdieskaal@huisgenoot.com en ons hou jou op hoogte.
V: Kan ek die oefenprogram by die huis doen?
A: Ja! Die oefening is ontwerp om min ruimte en toerusting te gebruik. Jy gaan ’n paar basiese gereedskapstukke moet kry: ’n stel ligte handgewigte, ’n stel swaar handgewigte en ’n weerstandsband.
Al die ander oefeninge gebruik net jou liggaamsgewig of huishoudelike goed soos stoele en papierborde.
V: Hoe werk die eetplan?
A: Die eetplan is ontwerp om bekostigbaar te wees. Dit werk met makro’s (die hoeveelheid wat jy van ’n sekere kosgroep moet inkry) en kilojouletellings, en jy kan jou eetplan dus aanpas deur dieselfde soort kos te gebruik wat jy gewoonlik in jou kombuis sou hê.
Jy gaan heelwat vars produkte eet – slaai, groente en vrugte – maar dis “gewone” kossoorte. Jy hoef nie ghrênd gesondheidswinkels te soek of bestanddele te koop waarvan jy nog nooit gehoor het nie – als wat jy nodig het is by jou plaaslike supermark.
As jy halaal, kosjer, vegetaries of veganisties eet, kan jy bloot op die kosruilingslyste kyk en ’n ander kossoort met gelyke waarde kies.
Dit geld ook as jy ’n kos-intoleransie het, maar as dit onlangs eers by jou gediagnoseer is, stel ons voor jy spreek ’n dieetkundige wat jou kan help om slim, gesonde keuses te maak.
V: Wat mag ek drink?
A: Water: Jou waterinname is die belangrikste, veral omdat jy waarskynlik meer aktief is as voorheen. Gee dit geur met mentblare, suurlemoen en komkommerskyfies.
Tee en koffie: Gebruik vetvrye of amandelmelk (onversoet) vir tee en koffie. Gebruik kunsmatige versoeter indien nodig; ons dieetkundige beveel “sucralose” aan. Sy beveel veral rooibostee aan.
Koeldrank: Suikervrye drankies soos Tab, Coke Zero en Sprite Zero word wel toegelaat.
Alkohol: ’n Botteltjie Castle Lite het 101 kcal in, jy sal dus 1 stysel + ½ vetporsie van die eetplan moet verwyder. Ligte witwyn het 50 kcal per glas, bv Drostdyhof se ligte witwyn. Beter opsies as bier en wyn is ’n sopie jenewer met suikervrye tonic OF whisky en water OF vodka + Sprite Zero.
V: Is die R495-betaling eenmalig of maandeliks?
A: Die R495 is ’n eenmalige betaling wat jou volledige oefen- en eetplan vir die hele 12 weke insluit.